Tel: 016 341 2631

E-pos: admin@lsagvisser.co.za

HOKKIE

Hooforganiseerder

Ons het in 2024 ‘n baie besige, maar lekker en suksesvolle hokkieseisoen gehad. Ons het in die Junie-vakansie afgeskop met ‘n hokkiekliniek wat deur Tracey Ehlers, voormalige SA-doelwagter, en haar span aangebied is. In die eerste week van die nuwe kwartaal het ons ‘n mini-hokkiekliniek op ons eie gronde aangebied. Hier het elke klein hokkiespeler lekker gespeel en terselfdertyd hokkie geleer. Ons het ‘n 0/11, 2de en 1ste hokkiespan die jaar in die senior liga ingeskryf. Dit was ‘n baie sterk liga en steeds het ons spanne besonders goed presteer. Ons het ook die voorreg gehad om die kwartaal, 3 hokkie-onder-die-ligte-aande te hou, waar jonk tot oud op ‘n Vrydagaand saam kom speel het onder die ligte. Dit was vet pret. Met ‘n swaar, maar dankbare hart eindig ons die hokkie-seisoen en sien ons uit na volgende jaar.

Me. Sherani van Heerden

 

Hooforganiseerder (Mini-hokkie)

In Vissieland begin ons reeds by ons kleinste Vissies om basiese vaardighede en tegnieke aan te leer. Die lesse wat ons by mini-hokkie en mini-netbal aanleer, is van onskatbare waarde. Ons glo sport van kleinsaf skep geleenthede vir groei en ontwikkeling. By Vissies moedig ons goeie sportmangees aan wat lei tot deursettingsvermoë, geduld, spanwerk en ook om te leer dat alles nie altyd uitwerk soos ek wil nie. Ons mini’s is deel van 6 skole waartydens ons geleentheid kry om gedurende Mei en Augustus in ‘n rondomtalie teen mekaar te speel. Dit sluit skole in soos Die Arend, Brakpan-Oos, Dalview, Môrewag en Tini Vorster. Ons Vissies het vir geen sterk skool teruggestaan nie, inteendeel, ons het baie goeie resultate behaal. Ons afrigters is baie trots op elke Vissie, groot en klein wat hulle harte uitgespeel het die seisoen.

Me.Elbé Pauer